NIKSDOEN is nie in Thys die Bosveldklong se aard nie. Dié man met sy sebravel-skoene en kakiekortbroek probeer gedurig aan nog maniere dink om die pot aan die prut te hou. Verlede jaar het hy ’n braaireeks bekendgestel en vanjaar wil hy gholftoere aanbied. Natuurlik sal hy tussendeur sing ook. ‘‘Ek het verlede jaar ophou rook en gewig verloor,’’ vertel Thys. ‘‘Ek het my lewenswyse verander en nou het ek baie meer energie om dinge aan te durf.’’ Sy nuutste CD, Boeretroos, is einde verlede jaa...
NIKSDOEN is nie in Thys die Bosveldklong se aard nie. Dié man met sy sebravel-skoene en kakiekortbroek probeer gedurig aan nog maniere dink om die pot aan die prut te hou.
Verlede jaar het hy ’n braaireeks bekendgestel en vanjaar wil hy gholftoere aanbied. Natuurlik sal hy tussendeur sing ook.
‘‘Ek het verlede jaar ophou rook en gewig verloor,’’ vertel Thys. ‘‘Ek het my lewenswyse verander en nou het ek baie meer energie om dinge aan te durf.’’
Sy nuutste CD, Boeretroos, is einde verlede jaar bekendgestel en daarop is weer ’n paar verrassings. ‘‘Ek het woorde geskryf vir bekende boeremusiekwysies soos die Kalfiewals. Ek is ook baie in my noppies met ’n liedjie wat Laurika Rauch se man, Christopher Torr, vir my geskryf het. Die naam is Thys se Dilemma en dit spot met die storie dat ek ’n vrou soek wat vir my ’n foto van haar plaas sal stuur.
‘‘Ek moet mense net waarsku: Boeretroos is nie so diep soos my vorige CD’s nie,’’ spot hy en skaterlag dan dat sy rooi baardjie bibber.
Hy het ’n groot liefde vir boeremusiek en glo dit vat nou weer vlam. ‘‘Ek wil graag boeremusiek na die townships bring,’’ sê hy. ‘‘Daar is baie ooreenkomste tussen boeremusiek en township-musiek wat nog ontgin moet word. Almal is op soek na ’n unieke Suid-Afrikaanse klank en dis dalk hy. As die twee gekombineer word, kan dit net wonderlik wees.’’
Thys is altyd reg met ’n grappie en wanneer hy op die verhoog is, laat hy mense skater. Maar hy het ook ’n ernstige kant. ‘‘Daar is ’n klassieke kant aan die klong waarvan min mense weet,’’ sê hy.
Die afgelope jaar het hy minder getoer om meer by sy familie en vriende te kan uitkom. ‘‘ ’n Mens kan in die vermaakbedryf baie maklik jou vriende afskeep,’’ sê hy. ‘‘Ek het ’n bietjie minder gedoen, wat goed was. Jy kom varser by konserte aan en sien uit na elkeen van hulle. Maar vir 2005 het ek groot planne, soos nog ’n CD.’’
Hy besef kunstenaars het ’n beperkte rakleeftyd en hy moet aanhou planne maak om sy neseier groter te maak. ‘‘Ek moet nou al dink aan die dag dat ek nie meer my lyf op ’n verhoog kan rondgooi nie,’’ sê hy.
Hoe gaan dit met die vrousoekery? ‘‘Daar was nog nie ’n suksesvolle kandidaat nie en ek het die aansoeke vir die feesdae gesluit omdat die administrasie dan ’n bietjie deurmekaar raak. Maar in Februarie sal ek weer reg wees en dan kan die vroue met plase weer van hulle laat hoor,’’ sê hy gemaak ernstig. Read more on Last.fm. User-contributed text is available under the Creative Commons By-SA License; additional terms may apply.